Goeiedag burgerzd ek hoop dit gaan goed ? Ek tik maar in Afrikaans en ek glo jy sal dit darem verstaan. Ek self is baie lief vir kurperhengel en sal advies gee t.o.v wat vir my werk. Loskop bly een van my lekkerste damme en huisves baie mooi bloukurpers maar daar is darem ander damme ook wat mooies het. Kom ek gee gou advies rakende die visspesie self. Kurpers kom gewoonlik in skole voor van min of meer dieselfde grote en hulle verkies die vlakker waters (+- 2meter tot 4meter) in areas wat skuiling kan bied d.w.s. bome in die water, waterlelies, gras, riete, baaitjies met sanderige bodems. Wanneer hulle broei beweeg hulle na die vlakker water toe om hulle neste te kan bou en moet nie gesteur word nie. Kurpers kan vanaf die oewer of vanaf 'n boot gevang word maar damme soos Loskop sal ek voorstel dat jy 'n boot moet hê aangesien 'n persoon maar moet uitry om die geskikte areas vir die kurpers te kry maar jy kan met oewerhengel ook suksesvol wees. As jy bv.'n boot het en 'n visvinder wat vir jou die waterdiepte kan gee sal dit voordelig wees maar anderste kan jy dit sommer met jou glydobber bepaal. Indien jy voel jy die geskikte area gevind het kan jy 'n voerplek maak deur maroek in die area te gooi (let wel moenie op eenslag die hele sak uitgooi nie aangesien jy duisende ander visspesies ook kan lok of dan ook maak dat die kurpers die heeltyd maroek eet maar nie jou wurm nie.) Dit is belangrik dat jy dit geleidelik ingooi. Ek gebruik self net maroek maar weet van mense wat ook erdwurms daarin gooi vir 'n beter smaak en voerplek. Hoe langer die maroek buite staan hoe suurder word dit en party hengelaars sê ook dat dit meer vis sal lok. Wie sal weet ? Nadat jy voerplek gemaak het is dit heel eenvoudig om die wurms aan die hoek te sit in te gooi en geduldig te wag.(Tuinwurms of Karibawurms is geskik en ek vang met albei,soms verkies ek die karibawurms aangesien hulle nie so slymerig is nie en party mense sê hulle bly langer lewendig in die water, ek persoonlik het met beide al sukses gehad.) Ek self sit net een wurm aan my hoek en vind dat dit makliker is om die vis te kan vang, soms sit mense 'n klomp wurms gelyktydig aan en vang ook op daardie manier maar ek het gevind as daar die veel van die wurm uitsteek op die hoek dat die kurpers dit makliker kan aftrek, so wat ookal vir jou werk. Ek ryg die wurm via die hoek sodat net die voorste gedeelte van die wurm kan beweeg, jy wil immers hê die kurpers moet die beweging kan raaksien (onthou kurpers het baie goeie sig en maak o.a. staat daarop om so hulle kos te soek). Met jou glydobber kan jy nou bepaal op watse diepte die kurpers byt en die heeltyd op daardie diepte jou lyn ingooi. Dit is dan 'n kwessie van geduld en jy sal gou agterkom of daar beweging in die area is of dan nou nie. Moenie te ongeduldig wees as daar aanvanklik nie te veel aksie is nie soms moet 'n persoon 'n halfuur of dalk langer sit en wag (gelukkig het ons vissermanne mos baie geduld) Nou kom die kuns in van kurperhengel rakende die tegniek. Klein kurpertjies vat jou wurms baie meer aggressief as die groter kurpers en jy sal met meer duidelikheid kan sien dat jou dobbertjie beweeg en dan kan jy maar vaskap. Met die grotes moet jy mooi kyk aangesien jou dobbertjie nie so aggressief beweeg nie en die dobbertjie kan baie "skelmpies" afwaarts beweeg (dalk net 'n paar mm na benede) of soms gebeur dit dat jou dobbertjie in die rondte draai of heen en weer kantel, kapvas want dit kan dalk 'n grote wees. Later van die tyd begin jy die idee en voorgevoel kry maar dit verg altyd baie konsentrasie (dit is hoekom hierdie tipe manier van kurperhengel vir my persoonlik 'n groter uitdaging is en baie pret) Natuurlik gaan jy mis maar dit is mos alles deel van die leerproses. Indien jy voel maar jy vang te veel kleintjies verplaas net jou lyn so meter of twee van die voerplek af aangesien die grotes baie keer nie kans kry om te byt nie en soek hulle maar in die area. Wat die strop betref gebruik ek 'n doodeenvoudige "boerestrop" d.w.s die sinker onder aan die lyn met twee hoekies bo die sinker so 30 cm uitmekaar uit en ek gebruik maar 'n nommer drie of vier grote hoek en pas die hoeke maar aan afhangende van die grote vis wat die dag byt. Baie hengelaars probeer kurpers te vang met kunsaas ook. Onthou om mooi na ons kurpers te kyk en hulle weer terug te plaas asb hulle is ook al bedreig. Gee hulle kans om mooi groot en vet te raak sodat die volgende persoon ook genot uit kurperhengel kan kry dit is immers een van die lekkerste visse op ligtegerei om te teiken.
Stywe lyne en geniet dit.